Vertaler omskep deur Oorspronklike Liefde

gepos Jan 17, 2018 in Oorsig van boeke

Ek het myself uitgegiet in die vertaling van die boekie Oorspronklike Liefde, deur laatnagte wakker te bly om die werk te voltooi. Kosbare insigte in die Woord van God en sy oogmerke met my huwelik het vir my oopgegaan terwyl ek deur die vertaling gewerk het.

Ek het ingesien hoe ek die rol wat die vyand voorgeskryf het, vervul het binne my  mees heilige verhouding op hierdie aarde – dié met my man. Ek het die foute gesien wat ek begaan – hoe die Eros liefde tussen ons twee ons verhouding skade aangedoen het en hoe dit smart gebring het in die hart van God. Ek moes die harde les leer (en ek leer dit steeds!) van onderdanigheid aan my eie aardse geliefde, nie omdat dit enigiets vir myself in die sak sal bring nie, ook selfs nie omdat dit my man se goedkeuring sal wegdra nie, maar bloot uit waardering van wat God aan my gegee het – ‘n wonderlike man saam met wie ek die Here dien.

Wat ‘n voorreg was dit om om te leer omtrent God se liefdevolle en vrygewige natuur; om te leer dat ek absoluut niks kan doen om hierdie pragtige lewe van God te ontvang nie… maar wat ‘n teleurstelling toe ek hierdie dinge deel met met die mense wat saam met my die Woord van God ondersoek, en ontdek dat hulle glad nie deel in my opwinding nie. Ek het begin bid vir wysheid van Bo om hierdie kosbare waarhede te deel. (… min het ek besef dat ek nie toegelaat het dat hierdie dinge my lewe verander nie, en daarom was my getuienis nie van veel waarde nie…)

Toe ek klaar was met die vertaling van Oorspronklike Liefde, het ek iemand benodig om dit te proeflees. Ek het een van my vriende in ons Bybelstudiegroep omgepraat om hiermee te help, want ek het gereken dat hy die vermoë het om tikfoute raak te sien. Hy het teësinnig ingestem. ‘n Ruk later het hy sy terugvoer aan my deurgegee. Hy het ‘n vraag gehad:  “Waar kry ek nog sulke boeke in die hande?”  Met ‘n groot glimlag het ek hom gewys op maranathamedia.com. Hy het nog baie ander boeke afgelaai en deurgelees en sommige uitgedruk om dit behoorlik te bestudeer. Daar het ‘n verandering in hom plaasgevind in die maande wat gevolg het, namate hy die kosbare waarhede in die bladsye ontdek het. Sy Bybel het vir hom met nuwe betekenis oopgegaan en hy het positiewe bydraes gelewer in ons bybelstudies.

Matt 10:8 – “…julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle te gee.”